Die veearts en die hoefsmid
In die ewig veranderende wêreld waarin ons lewe, is ’n goeie, gesonde verhouding tussen die veearts en die hoefsmid belangrik om te verseker dat die boer op die voorpunt bly. ’n Boer moet hom/haar omring met ’n bekwame, gespesialiseerde span raadgewers om leiding en ondersteuning te gee ten einde sukses te waarborg.
“Every morning in Africa, a gazelle wakes up. It knows it must run faster than the fastest lion or it will be killed. Every morning a lion wakes up. It knows it must outrun the slowest gazelle or it will starve to death. It doesn’t matter whether you’re a lion or gazelle. When the sun comes up, you’d better be running.” – Steve Grasso
’n Wen-Verhouding
Die doel van die verhouding tussen die veearts en die hoefsmid is om aan die boer goeie, wetenskaplik gebaseerde advies te gee oor voorkomings- en behandelingstrategieë. Indien die veearts en die hoefsmid se advies ooreenstem, is die waarskynlikheid groter dat die boer die advies sal aanvaar. Roetine-versorging en -balansering van hoewe wanneer die koei droog is, berei haar voor vir die volgende laktasie.
Indien die veearts nie oor die nodige toerusting of fasiliteite beskik vir vinnige en veilige hantering van die koeie nie, kan witlyn-infeksies, sool- of toon-druksere, sandkrake, absesse, en die aanwending van houtblokkies en verbande na die hoefsmid verwys word. Die hoefsmid doen nie enige chirurgiese prosedures nie en geen mediese diagnose word gemaak nie, maar kan gebaseer op sy ervaring ’n aanbeveling maak in konsultasie met die veearts. Die hoefsmid werk net op dooie hoefmateriaal en rondom die ontsteekte area, met die toepaslike behandeling vir die toestand.
Veeartsenykundige Prosedure
Die volgende prosedures mag net deur ’n veearts uitgevoer word:
- artrodese as gevolg van permanente skade aan die klou;
- amputasie van die klou; en
- senublok om byvoorbeeld aan ’n abses te werk.
In Konsultasie
Die hoefsmid sal die veearts raadpleeg oor toestande wat:
- aansteeklik is of die potensiaal het om deur die kudde te versprei (digitale dermatitis of aarbeivrotpootjie);
- antibiotika-behandeling vereis;
- simptomaties is van onderliggende voedings- of bestuursprobleme (subkliniese asidose of laminitis);
- intervensie verg met betrekking tot dierewelsyn (trauma as gevolg van swak konstruksie of onderhoud van looppaaie en beeshanteringstegnieke);
- aanmeldbare siektes mag wees (bv. bek-enklouseer); en
- nie noodwendig hul oorsprong by die poot het nie (driedae-stywesiekte of ander toestande van die spier-skelet-stelsel).
Toerusting Vir Hoefversorging
Die hoefsmid gebruik ’n wye verskeidenheid spesiaal ontwerpte toerusting om sy werk te doen:



- Hidrouliese drukgang – om die koei te immobiliseer deur die hoef te klamp. Die drukgang is baie veilig en sal nie die koei beseer nie.
- Roto clip snyer– om oortollige hoefmateriaal weg te sny vir behandeling.
- Hoefmes – ’n spesiale mes om beskadigde horing te verwyder vir doeltreffende behandeling. ’n Skerp hoefmes is ’n waardevolle instrument.
Die hoefsmid sal, nadat die hoef ondersoek is, bepaal watter soort behandeling nodig is.
Slotsom
Die behandeling van die hoef is ’n baie belangrike legkaartdeeltjie met betrekking tot die bestuur van die koei en die onderneming. ’n Mank koei is ’n las, en dus is tyd en geld wat aan hoefversorging bestee word, nooit geld in die water nie.
Deur Gert van Zyl